Wanderers het tot netnou om te appelleer

Plaaslike media berig dat ondanks die nuusverklaring wat die Namibië Rugby-unie Saterdag uitgereik het, beskou FNB Wanderers-rugbyklub die tugsaak teen hom nog nie as afgehandel nie en sal voor die spertyd vanoggend ’n appèl indien. Wanderers-rugby se voorsitter, Willem van Zyl, het Sondag ná afloop van dié klubbestuur se vergadering om ’n besluit oor hul reaksie te neem, laat weet dat die Wit Hingste wel die opsie van ’n appèl sal uitoefen – waarvan die spertyd vanoggend om 10:21 aanbreek. Die NRU het Saterdag die nuusvrystelling uitgestuur wat verklaar dat sy onafhanklike dissiplinêre komitee Wanderers skuldig bevind het op beide klagte – naamlik dat hy op 16 Oktober in beide sy eerste en tweede spanne spelers gebruik het wat nie regmatig geregistreer was nie. Op grond hiervan is Wanderers se oorwinnings in beide hierdie semifinale – die NRU premierliga en NRU reserweliga – verbeurd verklaar en is die uitslae aan FNB Western Suburbs toegeken.