Uraanprys herstel, uiters goeie nuus vir Namibië

Die prys van uraan verhandel op die oomblik rondom 50 Amerikaanse dollar per pond, wat ‘n groeitempo van 170 persent in 36 maande verteenwoordig. Volgens die Namibiese Kamer van Mynwese, het die oorlog in Oos-Europa druk op uraanbronne geplaas. Beide Rusland en die Oekraïne is onder die top-tien uraanprodusente ter wêreld en met die oorlog is voorraad beperk. Die verbod op Russiese olie en gas in Europa plaas verdere druk om uraan omdat regerings skarrel om alternatiewe bronne van energie te bekom. Namibiese mynmaatskappye het tans ‘n gulde geleentheid om oortollige produksie op die ope mark te verkoop. Namibië is die wêreld se tweede grootste uraanprodusent en net twee van vyf myne is aktief. Die ander begin produksie hervat of is in die proses om produksie te hervat. Verskeie ander eksplorasie-aktiwiteite word ook nou weer voortgesit. Die Wêreldkernorganisasie berig dat ongeveer 440 kernkragreaktors met ‘n gesamentlike kapasiteit van ongeveer 390 Gigawatt nou in 32 lande in werking is, met ‘n bykomende 55 reaktors wat in 19 lande ontwikkel word.