Uietele hoor rooilyn-saak aan vandag

Die langverwagte hofsaak wat deur Job Amupanda gebring is om die rooilyn te verwyder is vanoggend voor regter Shafimana Uietele vir saak bestuur. Die Namibiese Vleisraad het hom verlede week by die saak aangesluit. Die Vleisraad het stukke by die hof ingedien en gevra om of tussenbeide te tree of as ‘n vyfde respondent bygevoeg te word. Amupanda sê die rooilyn is diskriminerend en is ‘n oorblyfsel van die koloniale tyd. Die aksie volg nadat vleis wat hy op Omuthiya gekoop het by die Oshivelo-hek gekonfiskeer is. Respondente in die saak is die minister van landbou, die Namibiese regering en die prokureur-generaal. Die respondente het nog nie stukke ingedien nie maar het kennis van verdediging gegee. Landboukenners, en lede van die opposisie in die land, het die aansoek as absurd, en gevaarlik, beskryf. Meeste ministers, sowel as die president en politici in die land het plase in die kommersiële gebied.