Tonga is steeds afgesny

Die eiland-nasie Tonga, aan die Stille Oseaan, is vandag afgesny van die res van die wêreld, ná ‘n massiewe vulkaniese uitbarsting die kommunikasie lamgelê het en noodlenigingspogings tot stilstand gebring het. Dit is twee dae sedert die Hunga Tonga-Hunga Ha’apai-vulkaan uitgebars en Tonga met ‘n laag as bedek het en ‘n Stille Oseaan-wye tsoenami veroorsaak het. Slegs brokkies inligting is bekend wat kom van ‘n handjievol satellietfone op die eiland. Tonga se bekommerde buurlande sukkel steeds om die omvang van die skade vas te stel, wat beduidend is, volgens Nieu-Seeland se leier, Jacinda Ardern.