Soogdiere was eers sterk en dom, toe slim en klein

Na die asteroïde-impak van 66 miljoen jaar gelede wat die dinosourusse uitgewis het, was dit belangriker vir soogdiere om sterk te wees, eerder as slim. Dit verander die idee wat lank in die wetenskap bestaan het dat intelligensie die diere gehelp het om te oorleef. ‘n Ontleding van fossiele van soogdiere uit die Paleoseen-tydperk – wat strek oor die 10 miljoen jaar nadat die asteroïde driekwart van die aarde se spesies uitgewis het – het bevind dat terwyl hul liggame baie groter geword het, hul breingrootte relatief tot liggaamsmassa eintlik afgeneem het. Die navorsing, wat in die vaktydskrif Science gepubliseer is, toon dat die proses om groot breine by soogdiere te laat ontstaan, baie stadiger was as wat voorheen geglo is. Breingroei, het hulle gevind, het tydens die Eoseen ingeskop, tesame met ‘n verandering in die belangrikheid van verskeie funksies.