Shikongo se toestemming vir anti-gay optog lok kritiek uit

Die toestemming wat deur die polisiehoof luitenant generaal Joseph Shikongo aan die Koalisie van Kerke en Organisasies gegun is om môre hul optog teen die beslissing van die hooggeregshof oor gay-huwelike te hou, het wyd reaksie uitgelok. Shikongo het toestemming aan Michael Amushelelo om ‘n optog teen jeugwerkloosheid op 21 Maart te hou, geweier. Die koalisie sou vandag die protes vanaf 10-uur gehou het maar dit sal môre plaasvind. Intussen het die Namibiese Metodiste Kerk sy lede gevra om hulle te weerhou van optog. In ‘n verklaring sê Eerwaarde Gaya van die Namibiese-distrik van die kerk dat die amptelike standpunt van die Metodiste Kerk een van aanvaarding eerder as verwerping is en ook dat enige haat, viktimisering en geweld teen die LGBTQ-gemeenskap ten sterkste veroordeel moet word.