Sbu verlaat die Blou bulle

Die Springbokvleuel, Sbu Nkosi, en die Bulle se paaie het geskei. Volgens die unie is dit met wedersydse instemming en die speler gaan sy loopbaan nou elders voortsit. Die 27-jarige Nkosi was deel van die nasionale groep wat die Wêreldbeker in 2019 in Japan gewen het, maar het ʼn onstuimige tyd in Pretoria beleef sedert hy verlede jaar van die Haaie af daarheen verhuis het. Hy was in Desember drie weke lank vermis en het daarna erken hy het probleme met geestesgesondheid. Die Bulle het Nkosi bedank vir sy bydrae.