Sanksies het nie invloed op oliemark, of prys nie

Die Brent ru-olieprys bly bestendig tussen 75 en 76 Amerikaanse dollar ‘n vat, ten spyte daarvan dat Opul produksie-besnoeiings aangekondig het met Saoedi-Arabië wat sy produksie met ‘n miljoen vate ‘n dag sal sny. Die prysimpak van Opul se aankondiging het presies ‘n dag geduur toe daal olie weer. Dit is natuurlik goeie nuus vir Namibiese verbruikers omdat die olieprys inflasie bepaal. Die rede vir die bestendigheid van die kommoditeit kan wees omdat sanksies teen verskeie lande se olie, Rusland, Venezuela en Iran ingesluit, geen werklike impak op verkope het nie. Indiese owerhede sê teen die einde van die huidige finansiële jaar, sal Russiese olie 30 persent van Indië se invoere beslaan, op van 2 persent in 2021-22. Intussen word daar berig dat Iran se olie-uitvoere vanjaar ‘n hoogtepunt bereik het met 1,5 miljoen vate wat daagliks uitgevoer word, ten spyte van sanksies teen die land. Tehran het aangekondig dat sy produksievlakke vir Mei vanjaar op meer as 3 miljoen vate daagliks staan.