Rietbeddings, water meesterplan moet aandag kry

Die sluise van die Hardapdam is reeds gistermiddag om vyf-uur toegetrek en die dam was teen daardie tyd op 69,2 persent van kapasiteit. Met die goeie neerslae in die dam se opvangsgebied is sluise herhaaldelik oop en toe gemaak om die dam op 70 persent van kapasiteit te hou. Volgens NamWater se dambulletin, is 9 miljoen kubieke meter water uit die dam gelaat in sewe dae. Hardap mag nie voller as 70 persent wees nie, na die vloede van 2006. Maar, kenners in die gebied meen die rietbeddings in die Visrivier moet aangespreek word. Daar was in die verlede nie ‘n probleem met die dam voller as 70 persent nie. Die water wat uitgelaat word gaan saam met die water wat van die Neckartaldam oorloop, see toe. Daar is ‘n water meesterplan wat ‘n pyplyn vanaf Neckartal tot by Von Bach insluit maar, daar is geen begroting om die plan in werking te stel nie.