Platwurm-infeksies styg skerp in Kavango Wes

Die Namibiese gesondheidsministerie sê daar is ‘n toename in gevalle van skistosomiasis in die Kavango Wes-streek. Altesaam 608 vermeende gevalle is aangemeld, waarvan 173 beide klinies en via laboratorium bevestig is. Skistosomiasis is ‘n aansteeklike akute en chroniese siekte wat veroorsaak word deur parasitiese platwurms, wat oorgedra word wanneer individue in aanraking kom met water wat met slakke, wat draers is van die platwurms, besmet is. Die ministerie sê skoolgaande kinders is die meerderheid van die gevalle en almal word tans as buitepasiënte behandel met geen hospitaliserings nie. Volgens die ministerie is ongeveer 600 miljoen mense regoor die wêreld hoë-risiko groepe vir skistosomiasis met 200 miljoen wat besmet is. Van die 200 miljoen ervaar ongeveer 20 miljoen ernstige siekte. Die siekte kom voor in die Zambezi-, Kavango Oos-, Kavango Wes- en Omusati-streke.