Opposisie-leier in Haïti doodgeskiet

Die leier van een van die belangrikste politieke partye van Haïti is in ‘n voorstad van die hoofstad Port-au-Prince vermoor. Eric Jean Baptiste, sekretaris-generaal van die Rally of Progressive National Democrats en ‘n voormalige presidentskandidaat, is in sy voertuig geskiet. Sy sekuriteitswag is op slag dood en Jean Baptiste is in die hospitaal dood. Minder as ‘n week gelede het die 52-jarige Jean Baptiste aangesluit by leiers van ander politieke partye om ‘n geskiedkundige kompromie te eis om Haïti uit sy politieke en veiligheidskrisisse te bring. Swaar gewapende bendes saai terreur in ‘n groot deel van Haïti, wat die verspreiding van goedere vanaf ‘n hoofhawe blokkeer.