Bystand kom stadig aan in Kenia

Daar was tot dusver geen verligting van die oorstromings in Kenia nie met die reën wat voortduur. Die sterftesyfer styg en is nou bo 200. Amptenare sê daar word tans 164 mense vermis, met ‘n totaal van 42 526 huishoudings wat verplaas is, wat meer as 210 000 mense raak. Bystand kom stadig aan en die ministerie van binnelandse sake sê hy het begin om kampe in verskeie dele van die land op te rig om diegene wat deur die oorstromings ontheem is, te huisves. Ontheemdes naby Victoriameer het voedselhulp begin ontvang.