Kongolees vas vir N$197 500 se dagga

Die Namibiese polisie het ‘n Kongelese burger Saterdagnamiddag gearresteer vir die besit van dagga ter waarde van 197 500 Namibiese dollar. Volgens wat berig word is die man rondom vier-uur by die sokkerveld by Goreangab in Windhoek vasgetrek met amper 4 kilogram dagga. Daar word verwag dat hy Maandag in die hof sal verskyn en die ondersoek duur voort. Daar is onlangs berig dwelmhandel sedert 2020 verdubbel het. In 2020 is 1 438 verdagtes gearresteer en die waarde van die beslagleggings was 17,3 miljoen dollar. In 2022 is 1 913 verdagtes in hegtenis geneem en die waarde van die dwelms wat net tussen Januarie en September gevind is, reeds op 35,7 miljoen Namibiese dollar bepaal.