Oliepryse daal na vrystellingsaankondiging

Oliepryse het laat gister begin terugsak en is op koers om die week met 3 persent te daal. Die daling word veroorsaak deur die aankondiging dat 240 miljoen vate uit noodvoorraad van verskeie lande, wat Japan insluit, vrygestel sal word. Ontleders het gesê die noodvrystelling van olie, wat sowat 1 miljoen vate per dag van Mei tot die einde van die jaar beloop, kan prysstygings op kort termyn beperk, maar sal nie die volumes wat verlore gaan ten volle dek as meer lande sanksies teen Rusland instel oor sy inval nie. ‘n Chinese dinkskrum het ook voorspel dat China se vraag na olie met 180 000 vate per dag sal verlaag in die tweede kwartaal. Die land ervaar op die oomblik ‘n groot uitbreking van Covid-gevalle met tot 25 000 wat daagliks aangemeld word en Sjanghai is steeds ingeperk. Die stad gebruik 4 persent van China se olie en op die oomblik staan alles stil.