NV: Daar is geld gesteel maar ons smeer niks toe nie

Die herrie is los oor aantygings deur die leier van die Affirmative Repositioning-beweging Job Amupanda, dat die Nasionale Vergadering korrupsie en diefstal goedkeur en toesmeer. Hy het so ‘n plasing op sy sosiale media platforms gemaak en die parlement vier dae gegee om te reageer. In ‘n verklaring laat gisteraand op sy sosiale media platforms, sê die parlement dat hy geensins korrupsie en diefstal goedkeur of toesmeer nie en Amupanda daarvan beskuldig dat hy fopnuus versprei. Luidens die verklaring is 1,2 miljoen Namibiese dollar wel by die instansie deur drie personeellede gesteel. Twee het reeds bedank en die derde is blykbaar ontslaan. Die fondse wat teruggevind is, is in hul pensioen- en verlof uitbetalings gevind. Fondse moet nog by een personeellid, wat bedank het, teruggevind word en die proses duur voort. Kort na die verklaring het Amupanda gereageer en gesê hy sal die verklaring bestudeer en dan terugvoer gee.