Noord-Korea sukkel, Covid brei verder uit

Noord-Korea het sy weermag gemobiliseer om Covid-medikasie te versprei en meer as 10 000 gesondheidswerkers ontplooi om te help om potensiële gevalle op te spoor. Die geïsoleerde land worstel met sy eerste erkende Covid-uitbreking, wat hy verlede week bevestig het. Die kwessie wek kommer weens ‘n gebrek aan entstowwe en voldoende mediese infrastruktuur. Owerhede het 269 510 meer mense met koorssimptome aangemeld, wat die totaal op net onder 1,5 miljoen te staan bring, terwyl die dodetal vanaf Maandagaand tot 56 gestyg het. Die Wêreldgesondheidsorganisasie het gewaarsku die virus kan vinnig versprei in Noord-Korea, wat geen inentingsprogram gehad het nie en internasionale hulp van die hand gewys het.