VSA rentekoers, Kaïro-onderhandelings druk olieprys af

Die prys van Brent ru-olie het effe teruggesak as gevolg van onderhandelings in Kaïro rakende ‘n skietstilstand in Gaza. Maar daar is ook kommer oor Amerikaanse rentekoerse. Olie verhandel tans net bo 87 Amerikaanse dollar ‘n vat, amper 1,5 persent laer as Maandag se prys. Analiste meen die mark het afgekoel omdat daar moontlik ooreengekom kan word oor die oorlog in die Midde-Ooste. Die Amerikaanse rentekoers, wat vandag en môre oorweeg word, kan onveranderd bly wat die Amerikaanse dollar versterk en dus, vraag na olie demp.