Namdia: Alle Namibiërs moet baat by natuurlike hulpbronne

Die voorsitter van die raad van Namib Desert Diamonds, Namdia, Bryan Eiseb, sê die maatskappy sal verseker dat elke Namibiër voordeel trek uit die land se natuurlike hulpbronne. Eiseb het tydens die oorhandiging van studiebeurse van die Namdia-stigting gesê sodra alle Namibiërs baat by die land se natuurlike hulpbronne, behoort ons nie armoede in Namibië te hê nie. Volgens Namdia se uitvoerende hoof en voorsitter van die stigting, Alisa Amupolo, het die maatskappy 300 aansoeke vir beurse ontvang, waarvan slegs 14 aansoekers, met een uit elke streek, behalwe twee uit Karas, aan die vereistes voldoen. Hardap was die enigste streek sonder verteenwoordiging. Die stigting sal 2,8 miljoen Namibiese dollar per jaar aan beurse, sowat 200 000 dollar per student, toeken. Die beurse is toegeken aan studente in mynbou-ingenieurswese, geologie, medies, chemiese en siviele ingenieurswese, akkerbou, veeartsenykunde, geoktrooieerde rekeningkunde en krag-ingenieurstudies.