Moord op bejaarde vrou op Mariental ondersoek

Die woordvoerder van die Namibiese polisie, hoofinspekteur Elifas Kuwinga, het pas aan Kosmos 94.1 Nuus bevestig dat die moord van die 83-jarige Johanna Hendrihetta (Rita) Simon op Mariental in die Hardap-streek ondersoek word. Na bewering het vier verdagtes laas nag by haar huis in Aubstraat ingebreek en haar en haar huishulp vasgebind. Verskeie items, soos twee selfone en trouringe, is in die huis gesteel. Volgens die polisie kon die huishulp haarself later, toe die verdagtes weg is, loswikkel. Sy wou Simon te hulp snel, maar het haar dood aangetref. Daar word vermoed dat Simon versmoor het, maar ‘n nadoodse ondersoek sal die oorsaak van haar dood bepaal. Die verdagtes is nog nie in hegtenis geneem nie en die polisieondersoek duur voort.