Moenie vir straatkinders geld of kos gee nie – Kanime

Die kinders wat in die hoofstad by verskeie kruisings bedel en motoriste teister, is in die nuus. Verskeie pogings is reeds aangewend om hulle van die strate te verwyder, sonder sukses. Op die oomblik is daar berigte dat hul motors skop en beskadig, en motoriste teister. Vroeër was daar ook berigte dat sommige kinders bestuurders met klippe bestook het as hulle nie geld gee nie. Die hoof van die Windhoek Stadspolisie Abraham Kanime sê solank as motoriste geld gee, sal hulle daar bly.

Intussen het Sean Naude van die Namibian Marshall Rangers gesê hy sal met die stadsraad en alle belanghebbendes konsulteer om ‘n oplossing te vind. In sy mening, moet die kwessie aangespreek word omdat die kinders, soos hulle ouer word, net gevaarliker sal word.