Venus-1 bevat 3 miljard vate olie

TotalEnergies se Venus-1-ontdekking aflandig in die suide van Namibië hou minstens 3 miljard vate herwinbare olie en is Afrika suid van die Sahara se grootste olievonds ooit. Dit is volgens ‘n vertroulike verslag wat aan upstreamonline voorsien is. Die ontdekking kom net ‘n maand of wat nadat Shell ook ‘n groot olie-ontdekking in Namibië gemaak het met sy Graff-1 put. Venus se bronne is volgens die verslag van so aard dat ongeveer 250 000 vate daagliks geproduseer kan word deur middel van drywende produksie-, bergings- en aflaai-vaartuie. Dit is ook TotalEnergies se grootste ontdekking in sowat 20 jaar. Venus-1 is tot ‘n totale diepte van 6 296 meter geboor deur die boorskip Maersk Voyager in blok 2913B, en het die reserwes in ‘n Kryt-sandsteenreservoir gevind.