Maradona se horlosie in Indië gevind

Die polisie in die noorde van Indië het ‘n gesteelde horlosie, wat spesiaal vir Diego Maradona gemaak is, teruggekry en die diefstal-verdagte aangekeer. Die Hublot-horlosie, met die handtekening van die Argentynse sokkerlegende daarop, is in die verdagte se huis in die Sivasagar-distrik gevind. Die 37-jarige man het as ‘n sekerheidswag gewerk by die maatskappy in Dubai waar items wat met Maradona verband hou, beskerm word. Die waarde van die horlosie word op 423 000 Namibiese dollar beraam. Die oud-Napoli- en Boca-juniors-voorspeler Maradona is in November verlede jaar aan hartversaking oorlede. Hy was 60.