Imran Khan word vir terreur ondersoek

Pakistan se voormalige eerste minister, Imran Khan, word ondersoek nadat hy na bewering Saterdag tydens ‘n politieke toespraak dreigemente teen die polisie en regbank geuiter het. Volgens internasionale nuusagentskappe beskuldig die oud-krieketspeler wat politikus geword het, owerhede daarvan dat hulle sy assistent, wat self weens klagtes van opstokery aangehou word, geteister het. Hy beskuldig ook Islamabad se polisiehoof en ‘n vroulike regter van die aanhouding en beweerde mishandeling van sy party-kollega. Khan is in April ná ‘n mosie van wantroue uit die kussings gelig.