Carl Niehaus bly in die nuus

Die geskorste ANC-lid Carl Niehaus sê hy is gefrustreerd deur die Nasionale Vervolgingsgesag wat te kwader trou optree. Die NVG het Niehaus ‘n ultimatum gestel om Maandag in die Estcourt Landdroshof in KwaZulu-Natal te verskyn. Indien dit nie gebeur nie sal ‘n lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik word. Niehaus staan tereg op aanklagte van die oortreding van Covid-19-regulasies nadat hy ‘n groep Jacob Zuma-ondersteuners toegespreek het, kort ná die oudpresident se arrestasie in Julie. Niehaus is in hegtenis geneem terwyl hy ‘n regstreekse TV-onderhoud gevoer het voor die Estcourt-gevangenis, waar Zuma aangehou is.