‘Gewoontestroper’ in been geskiet deur plaaseienaar

‘n Saak van poging tot moord is by die polisie in Karibib hangende gemaak na een van drie vermeende stropers in sy linkerbeen geskiet is deur die eienaar van die plaas waarop hulle was. Volgens Nampol word daar beweer dat die plaaseienaar honde op sy grond hoor blaf het. Ná inspeksie het hy drie vermeende stropers met vleis, gewapen met spiese, ’n byl asook drie honde in hul geselskap waargeneem. Die drie het na bewering probeer om die plaaseienaar met spiese aan te val, wat hom blykbaar genoop het om in sy verdediging een van die stropers in die been te skiet. Die ander twee het gevlug. Die polisie sê die slagoffer is met ‘n spies en ‘n byl gevind en is geïdentifiseer as gewoontestroper met vorige veroordelings in Karibib. ‘n Klag van onwettige jag word ondersoek en die polisie is op die ander twee se spoor. Die ondersoek dui daarop dat die verdagtes met ‘n wit bakkie op die plaas afgelaai is. Daar word geglo dat hulle later opgetel sou word.