Gemeenskappe wen weer in hof oor seismiese ondersoeke

Oos-Kaapse gemeenskappe aan die Wildekus het nog ‘n hofsaak gewen in ‘n poging om seismiese ondersoeke te stop. Regter Gerald Bloem het vandag in die hooggeregshof in Makhanda ‘n aansoek om verlof tot appèl teen sy beslissing in Desember wat tydelik Shell se seismiese ondersoeke aflandig van die Wildekus gestop het, van die hand gewys. Die aansoek is gebring deur Shell en die minister van minerale bronne en energie, Gwede Mantashe. Regter Bloem sê die tydelike interdik wat hy toegestaan het, bly in plek, hangende die afhandeling van ‘n ander hofaansoek om Shell se reg om seismiese ondersoeke te doen, tersyde te stel.