Geingob sluit (duur) besoek aan Dubai af

President Hage Geingob sluit vandag sy amptelike besoek aan die 2020 Dubai Eskpo af. Hy en verskeie lede van sy kabinet het reeds verlede Dinsdag na die Verenigde Arabiese Emirate vertrek. ‘n Nasionale-dag sowel as ‘n Braaidag is ook herdenk tydens sy besoek. Verskeie beleggingsaspekte het onder die loep gekom maar wenkbroue het gelig toe die minister van handel, Lucia Iipumbu die Beleggingsbevordering en Fasiliteringswetsontwerp voorgehou het as die amptelike beleggingsraamwerk vir die land. Die wetsontwerp is verlede jaar in November deur haar in die Nasionale Veragdering voorgelê maar dieselfde dag onttrek. Dit is nie ‘n amptelike dokument nie en het reeds wyd kritiek uitgelok. ‘n Video van ‘n baie luukse ete in Dubai wat deur Namibiese senior regeringslui geniet is, het ook wyd kritiek uitgelok en sommige kommentaar meen dat die regering in weelde lewe terwyl die gemiddelde Namibiër sukkel om kos op die tafel te sit. Die ekspo het miljoene gekos en die Namibiese pawiljoen is sedert 1 Oktober verlede jaar, toe dit oopgemaak het, beman. Die ekspo sluit volgende week Donderdag.