GBV sorg vir verminkte lyk

‘n 21-jarige vrou se verminkte en half ontbinde liggaam is by plot nr. 1, by die Hardap-skema in Mariental ontdek. Volgens Elifas Kuwinga, hoofinspekteur van NamPol, het die 29-jarige verdagte sy meisie vermoor deur haar te verwurg en toe haar keel af te sny. Die verdagte het toe haar liggaamsdele afgesny en dit weggegooi. Al haar liggaamsdele is teruggevind. Die voorval het verlede week Saterdag plaasgevind, en die verdagte het homself Maandagoggend aan die polisie oorgegee en hulle ingelig oor die misdaad, wat tot die gru-ontdekking gelei het. Die oorledene is geïdentifiseer as Chrizelda Kawari en haar naasbestaandes is ingelig. Die verdagte is in hegtenis geneem en het gister in die Mariental-landdroshof verskyn. Die saak is tot 13 Junie uitgestel.