GBV: daar is nie genoeg maatskaplike werkers nie

Vrywilligers wat saam met owerhede werk om geslagsgeweld te bekamp het hulle frustrasie uitgespreek oor die tekorte aan maatskaplike werkers in Namibië. Op die oomblik is daar 77 maatskaplike werkers wat in die ministerie van geslagsgelykheid en kinderwelsyn werk. Die groep moet ‘n miljoen kinders onder die ouderdom van 18 dien, wat beteken daar is een maatskaplike werker vir 13 000 kinders in die land. Die adjunkminister Bernadette Jagger sê daar moet eintlik 87 wees maar tien poste is vakant – dit is ook nie genoeg om die maatskaplike uitdagings op grondvlak aan te spreek nie. Van die vrywilligers sê owerhede moet verstaan dat geslagsgeweld en die misbruik van kinders ‘n uitdaging is wat op grondvlak plaasvind en is nie kantoorverbonde nie. Daar is ook meer as gereeld óf geen vervoer nie, óf daar is nie brandstof vir voertuie wat dienste moet lewer nie. Die uitdaging moet volgens hulle, dringend aangespreek word indien ‘n verbetering in die huidige situasie bereik wil word.