Jongste oor die brand by Kaapstadse parlementsgebou

Die brand by die Kaapstadse parlementsgebou is gedeeltelik onder beheer gebring in die ou vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies, maar woed nog in die Nasionale Vergadering. Dit is volgens die buurland se minister van openbare werke, Patricia de Lille wat ‘n kort tydjie gelede met media op die toneel gepraat het. Die brand het volgens die jongste berigte vanoggend omstreeks ses-uur ontstaan en die oorsaak is nog nie bekend nie. Intussen het vrae ontstaan oor die veiligheid van die gebou omdat daar verlede jaar in Maart ook in brand in die ou vergadering gebou, wat in 1884 voltooi is, ontstaan het. Dit was as gevolg van die elektriese fout en opknappingswerk is reeds ‘n geruime tyd terug voltooi. JP Smith, die burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit het intussen bevestig die alarmstelsels was vertraag en het eers afgegaan na die brandbestryders reeds in die gebou was. Dié stelsel en ander vroeë waarskuwingstelsels sal ook onder die loep kom. Smith sê daar was baie groot skade aan die dak van die Nasionale Vergadering-gebou en 60 brandbestryders is besig op die toneel. Daar is nog geen berigte oor enige beserings nie en dit is nie duidelik of die brand enige impak op die Nasionale Vergadering se bedrywighede sal hê nie omdat lede virtueel vergader.