EFF blameer regstelsel vir seksuele geweld

Die EFF sê seksuele geweld teen vroue duur voort weens die fundamentele tekortkominge in die regstelsel. Die party se reaksie volg op die terugtrekking van aanklagte van verkragting, seksuele aanranding en roof teen die 14 mans wat van die aanval op ‘n musiekspan in Krugersdorp beskuldig is. DNS-resultate kon hulle nie met die misdaad verbind nie. Die EFF-woordvoerder, Leigh-Ann Mathys, sê die moontlikheid dat die DNS-toetsproses nie korrek uitgevoer is nie, is ’n ongelukkige werklikheid. Mathys sê dit is juis waarom baie vroue nie voorvalle van geweld en seksuele geweld aanmeld nie.