Dansende verloofde paartjie van Iran 10 jaar tronk toe  

‘n Verloofde paartjie wat dit gewaag het om in Iran voor die Vryheidstoring in Teheran te dans, is elkeen langer as tien jaar tronk toe gestuur vir dié daad. Aktiviste glo die dansende paartjie word as simbool van uittarting teen die regime beskou. Astijazj Haghighi en haar verloofde, Amir Ahmadi, albei in hul vroeë 20’s, is vroeg in November in hegtenis geneem nadat ‘n video versprei het van hoe hulle romanties voor die Azadi-vryheidstoring dans. In stryd met Iran se streng reëls, het Haghighi nie haar kop bedek nie. Vroue mag ook nie in die openbaar dans nie, wat nog te sê met ‘n man en sonder ‘n hoofbedekking.