Daar is toe 8 Chinese sonder papiere by sementfabriek

Agt Chinese burgers is by die Cheetah-sementfabriek buite Otjiwarongo in hegtenis geneem nadat hulle nie werkspermitte aan die immigrasiebeamptes en lede van die Namibiese polisie kon verskaf nie. NamPol se woordvoerder in die Otjozondjupa-streek, inspekteur Maureen Mbeha, sê die agt verdagtes sluit ses mans en twee vroue in. Die verdagtes is almal in diens van Cheetah Cement, sowat ses kilometer noord van Otjiwarongo, het sy gesê. Die twee vroulike verdagtes en vyf mans was sedert Mei en Junie 2021 in Namibië, terwyl die 23-jarige in Maart vanjaar by die fabriek aangekom het. Hulle sal na verwagting almal binne 14 dae in die Otjiwarongo-landdroshof verskyn, het Mbeha bygevoeg. Hul teenwoordigheid is ontbloot deur lede van die Namibia Economic Freedom Fighters, wat vroeër die week na die kantore van die Cheetah Cement opgeruk het en gevra het dat alle Chinese burgers wat daar werk sonder werkspermitte, verwyder word.