Covid-gevalle neem toe, hospitalisering ook

Covid-gevalle neem plaaslik toe. Oor die afgelope drie dae is 585 nuwe gevalle aangemeld met positiewe koerse van tussen 17 en 21 persent wat bevestig is. Op 1 Mei het nuwe daaglikse gevalle op 85 gestaan. Die syfer het stelselmatig gestyg tot rondom 200 nuwe gevalle daagliks. Aktiewe gevalle het ook gestyg en staan tans op 1 518. Daar was teen Vrydag 46 pasiënte in die hospitaal wat teen Sondag gestyg het na 52. In Suid-Afrika meen kenners dat die land reeds drie weke gelede sy vyfde vlaag infeksies binnegegaan het. Daar word op die oomblik ‘n klein afname in gevalle aangeteken.