Redakteursforum van Namibië veroordeel aanval op koerant

‘n Direkte aanval deur die Afrika Kamer vir Energie op The Namibian koerant vir sy ondersoekende en etiese verslaggewing is verstommend en uiters kommerwekkend, sê die Redakteursforum van Namibië. Dit kom ‘n dag voor Wêreld Persvryheidsdag môre, en nadat die koerant vrae gestel het oor hoe Namibië sy betrokkenheid by die olie- en gasbedrywe benader, asook die regering se voorkeurvennote. Die Afrika-liggaam het die koerant hieroor in ‘n kru verklaring beskuldig dat dit xenofobiese denkprosesse bevorder. Die forum sê dit kan dalk nuus wees vir die liggaam, maar dit is hoe demokrasie en die vrye pers veronderstel is om te werk. Die forum wys uit dat Namibië op die voorpunt staan van persvryheid op die kontinent en veroordeel die aanval op die koerant ten sterkste.