Cosatu: 3% salarisverhoging sal loongaping vergroot

Cosatu sê die drie persent verhoging wat vir openbare ampsdraers goedgekeur is, sal die bestaande ongelykhede vererger. President Cyril Ramaphosa het vroeër die week salarisverhogings vir lede van die uitvoerende gesag, premiers en hul lede van uitvoerende rade, regters, tradisionele leiers en Hoofstuk 9-instellings aangekondig. Cosatu se parlementêre koördineerder, Matthew Parks, sê hulle glo die verhogings is onregverdig teenoor sukkelende staatsdienswerkers en sal die loongaping vergroot.