Chinese ‘spioenasieballon’: Blinken stel besoek aan Beijing uit

Die politieke bohaai oor ‘n vermeende Chinese spioenasieballon wat oor die Verenigde State gedryf het, het die beplande besoek aan Beijing deur die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Antony Blinken, laat ontspoor. Sy besoek aan China Vrydag is uitgestel. Die ballon wat oor Amerika opgemerk is, is volgens die Chinese regering ‘n burgerlike lugskip wat van sy beplande roete afgewyk het. Verdedigingsamptenare van die VSA glo dat die ballon, wat die afgelope dae bo sensitiewe gebiede gesien is, in werklikheid ‘n hoë hoogte-spioenasie-toestel is. China se ministerie van buitelandse sake sê dit word vir hoofsaaklik meteorologiese doeleindes gebruik. Top-diplomaat in Asië, Dan Russell, sê dit is ‘n belaglike alibi van China.