Chinese owerhede waarsku oor nog gure weer

China waarsku teen nog slegte weer nadat ‘n tornado deur ‘n oostelike stad beweeg het en minstens vyf mense gedood en vier beseer het. Die tornado het Suqian in die Jiangsu-provinsie vroeër vandeesweek getref. Staatsmedia sê meer as 5 500 mense is geraak, en byna 2 000 huise is beskadig of vernietig. Baie sterk wind en stortreën het ook landerye vernietig. China het onlangs rekord neerslae beleef en weke lange historiese hittevlakke ondervind, met wetenskaplikes wat beweer die ongekende weer word deur klimaatsverandering aangedryf.