Bring tog ‘n verwysingshospitaal na Otjiwarongo: goewerneur

Otjozondjupa-goewerneur, James Uerikua, het ‘n beroep herhaal vir ‘n verwysingshospitaal in Otjiwarongo, weens die groot aantal ongelukke wat op die B1-pad gebeur. Uerikua het gepraat by die sooispit-seremonie van die Ombili-kliniek in die dorp. Otjiwarongo het ‘n bevolking van 220 000 inwoners, waarvan 62 000 afhanklik is van gesondheidsdienste by die Otjiwarongo-staatshospitaal. Gereelde padongelukke in die hoërisiko-sone tussen Okahandja en Otjiwarongo plaas die dienste van die hospitaal onder erge druk. ‘n Behoefte aan ambulanse is ook uitgelig om die vier distrikshospitale, 26 gesondheidsentrums en 19 klinieke regoor die streek te bedien.