Botswana-weermag sal Namibiërs uitlos, sê minister

Die Botswana-weermag het onderneem om sy taktieke op die Zambezi-grens met Namibië aan te pas. Die aankondiging is gemaak deur die Namibiese minister van internasionale betrekkinge Netumbo Nandi-Ndaitwah. Inwoners langs die Chobe-rivier kla reeds ‘n geruime tyd dat die buurland se weermaglede hulle teister en terroriseer. Nandi-Ndaitwah sê die ooreenkoms is bereik na haar onlangse besoek aan die gebied met haar eweknie in Botswana, dr. Lemogang Kwape. Sy sê die buurland se owerhede verstaan dat Namibiërs teen die rivier toegang tot sy hulpbronne nodig het om te oorleef. Vier familielede, waaronder drie Namibiërs is in November 2020 deur soldate van Botswana doodgeskiet.