Botswana ontvang entstof-skenking van Duitsland

Die Botswana regering sal Saterdag ‘n besending van net meer as 101 000 dosisse AstraZeneca-entstof as donasie van Duitsland ontvang. Luidens ‘n verklaring deur die land se gesondheidsministerie het Duitsland net meer as 401 000 dosisse geskenk en die volgende besending word in die komende weke verwag. Die ministerie sê die land se inentingsprogram is tans in fase twee wat landsburgers tussen die ouderdom van 45 en 54 teiken en dat die persone moet aanmeld vir inenting. Jonger inwoners sal binnekort in aanmerking kom. Op die oomblik het die buurland net meer as 165 600 kumulatiewe gevalle en het ook onlangs ‘n erge derde vlaag van infeksies ervaar.