Booys bly agter tralies, appèl misluk

Regter Christie Liebenberg het die appèl van omstrede Okahandja-streeksraadslid, Steve ‘Biko’ Booys teen die weiering van borg vanoggend in die hoërhof van die hand gewys. Booys is in September 2021 borg in die landdroshof op Okahandja geweier. Hy word op klagtes van bloedskande en verkragting in die streekshof verhoor. Volgens die staat het hy op 16 en 17 Januarie 2021 ‘n 20-jarige vrou verkrag na hy haar drank of dwelms ingegee het. Hy is op 2 Februarie 2021 gearresteer en borg is sedertdien geweier omdat die staat beweer hy het kontak met die vermeende slagoffer gemaak oor die klagtes.