Babaseuntjie, 3 maande oud, steeds soek

‘n Drie maande oue babaseuntjie is volgens die Namibiese polisie se misdaadverslag deur twee onbekende verdagtes by die United Nations Park in Tsumeb ontvoer. Die 18-jarige ma van die Ohangwena-streek het na Tsumeb gereis, nadat sy ‘n oproep van ‘n vrou op die dorp vir werk as ‘n huishulp ontvang het. Met haar aankoms by die Engen-vulstasie, het ‘n vrou wat haarself as Trespo voorgestel het, en ‘n man haar na die United Nations Park geneem. Die vrou het met haar aankoms by die park glo 400 Namibiese dollar aan die jong ma gegee om saam met die man kos by ‘n winkel te gaan koop en die vrou het met die babaseuntjie agter gebly. Die man het by die winkel glo aan ‘n taxibestuurder gesê om die ma by die Senior Sekondêre Skool Oshikoto af te laai, waar die vrou en haar seuntjie glo vir haar sou wag. Met haar aankoms was die vrou en haar seuntjie egter nie daar nie en die vrou se selfoon was afgeskakel. Die polisie se ondersoek duur voort.