AU-hoof vergader met Putin oor graanvoorsiening

Die president van Senegal, Macky Sall, het in sy hoedanigheid as voorsitter van die Afrika-unie met die Russiese president, Vladimir Putin, ontmoet. Sall het bevestig dat Putin bereidwilligheid getoon het om die meer as 20 miljoen ton graan, wat in die Oekraïne by die Swartsee vasgekeer is, te laat uitvoer. Op die oomblik blokkeer sy weermag die vragskepe om die hawe daar te verlaat. Sall het verder gesê dat Putin ook sal verseker dat sy land se graan, sowel as kunsmis, uitgevoer word. Sall het nie gesê of daar voorwaardes op die uitvoere is nie maar, Putin het voorheen gesê hy sal die Oekraïnse grane laat gaan sou die Weste sanksies teen hom lig. Afrika maak op die Oekraïne staat vir 44 persent van sy graan. Die vasteland is ook tradisioneel baie sterk geallieerd met Rusland.