Arbeid sluit Cheetah Cement

Alle bedrywighede by Cheetah Cement net buite Otjiwarongo is deur die arbeidsministerie opgeskort weens die oortreding van arbeidswette in verband met die gesondheid en veiligheid van werknemers. Arbeidsinspekteurs, vergesel deur polisie van Otjiwarongo, het die fabriek gesluit. ’n Kennisgewing is afgelewer wat die fabriek opdrag gee om te sluit na inspeksies op 27 April en 3 Mei. Die sluiting is van krag vanaf 10 Mei tot alle regstellings gemaak is. Die maatskappy is ‘n gesamentlike onderneming tussen sommige Chinese beleggers en Whale Rock wat handel dryf as Cheetah Cement. Onlangs is agt onwettige Chinese burgers op die perseel gevind en gedeporteer. Sowat 210 Namibiërs en 44 Chinese werk vir Cheetah Cement.