Amushelelo kan nie advokaat bekostig nie

Die omstrede Michael Amushelelo en sy sake-vennoot Gregory Cloete, wat in die hoërhof klagtes van ondermeer geldwassery moet verdedig, het die hof om regshulp gevra. Volgens hulle prokureur, Khadila Amoomo, het die twee nie die fondse om ‘n advokaat aan te stel nie. Hy het adjunk-regterpresident Hosea Angula, wat die saak aanhoor, vir uitstel gevra sodat hulle fondse kan insamel en hulle is toe aangeraai om aansoek te doen om regshulp. Die twee staar 365 klagte van bedrog, geldwassery, belastingontduiking en belastingbedrog, onder andere in die gesig. Amushelelo het hom voorgedoen as ‘n ervare handelaar in buitelandse valuta en beleggers gelok. Die staat sê dit was ‘n piramiede-skema. Amushelelo het ‘n baie ryk leefstyl in die openbaar gehandhaaf tot sy arrestasie en daar word beweer hy het meer as 17 miljoen Namibiese dollar by beleggers ontvang. Die saak is tot 21 Julie uitgestel.