Al Jazeera verbied in Israel

Die Israelse eerste minister, Benjamin Netanyahu se kabinet het eenparig gestem om die Al Jazeera-televisienetwerk in die land te sluit, solank as wat die oorlog in Gaza voortduur. Die polisie het Sondag ‘n klopjag op die Kataarse uitsaaier se kantoor uitgevoer en op toerusting by die Ambassador-hotel in Jerusalem beslag gelê. Die Israelse regering beweer die netwerk is ‘n bedreiging vir nasionale veiligheid en ‘n spreekbuis vir Hamas. Al Jazeera het die besluit veroordeel as ‘n kriminele daad wat inbreuk maak op mense se reg op toegang tot inligting.