Afrika-atlete verloor medaljes

Die top-drie deelnemers van die Beijing-halfmarathon is van hul medaljes gestroop ná ’n ondersoek na die omstrede uitslag. Daar is beweer dat die drie Afrika-atlete opsetlik toegelaat het dat China se ster-hardloper, He Jie, Sondag se wedloop wen. Beeldmateriaal wys hoe Kenia se Robert Keter en Willy Mnangat en Ethiopië se Dejene Hailu na die lyn wys en stadiger draf om He te laat verby kom. Mnangat het aan die BBC gesê hulle het as pasaangeërs gehardloop. Maar die wedren se reëlingskomitee, wat die ondersoek gelei het, het gesê dat nie een van die drie amptelik as pasaangeërs vir He geregistreer is nie, dus het hul optrede die kompetisiereëls oortree.