Swakopmund spog met nuwe vermaakgeriewe

Die nuutgeboude Noordelike Strand-vermaakgeriewe op Swakopmund is amptelik vir die publiek geopen. Die vermaakgeriewe, wat naby die Platz am Meer-winkelsentrum geleë is, sluit onder andere in tien braai-areas, ‘n speelgrond, kiosk, ablusie- en stortgeriewe, asook ‘n area vir sportaktiwiteite. Tydens die feesseisoen sal die geriewe ook dien as ‘n basis vir ses lewensredders van die Namibiese vloot wat sal help om verdrinking te voorkom. Die Swakopmund-munisipaliteit het ‘n strandtoegangsplan ingestel om die aanbieding van funksies te reguleer. Die munisipaliteit ontvang gereeld aansoeke van inwoners en besoekers om funksie langs die strand aan te bied, veral gedurende die feesseisoen.