PDM wil weet hoeveel vroue en jeug het landboufinansiering gekry

Landboufinansiering vir Namibiese vroue en die jeug was vandag onder bespreking in die parlement. Dit volg nadat Namibiese President Hage Geingob tydens sy staatsrede vanjaar landbou as een van sy hoof-prioriteite beklemtoon het. Geingob het toe genoem dat bankfasiliteite beskikbaar gestel sal word vir vroue en jeugdiges om toegang tot lenings te kry wat hulle in staat sal stel om op landbou-produksie te fokus. Vipuakuje Muharukua, parlementslid van die Popular Democratic Movement, sê hy sal op Donderdag 6 Oktober die minister van finansies, Ipumbu Shiimi, vra hoeveel vroue en jongmense tot dusver baat gevind het.